top of page

Ons doen dit so effe anders...

 

BELYDENISAFLEGGING IN NYLSTROOM-OOS GEMEENTE

​

Nylstroom Oos Gemeente het afgewyk van die “tradisionele” manier van belydeniaflegging, waar mense in lang rye voor in die kerkgebou staan en almal “Ja” antwoord op die vrae van die leraar.  Die redes vir die verandering is soos volg:

  • Baie mense doen dit omdat ouers dit van hulle kinders verwag, en nié a.g.v. hulle liefde vir God en hulle geloof in Jesus Christus as hulle persoonlike Verlosser en Saligmaker nie.

  • Baie mense doen dit as blote tradisionele afhandeling van hulle kategese, en nié a.g.v. hulle liefde vir God en hulle geloof in Jesus Christus as hulle persoonlike Verlosser en Saligmaker nie.

â–º  Die volgende opmerkings van jongmense bevestig dit: “Vandag het die kerk vir my ‘n drinklisensie gegee” of “Ds, daar was jongmense wat saam met my in die ry gestaan en ‘n joke gemaak het van ons belydenisaflegging. Dit het my belydenisaflegging afgewater laat voel en my beroof van iets wat eintlik baie spesiaal moet wees, want ek is nie skaam om voor die mense te bely dat Jesus Christus die fondament van mý lewe is nie!”

 

Die vrae wat ons vir onsself moes beantwoord, is: “Waarmee is ons besig?  Is ons besig om die kerk te laat groei met die toevoeging van gelowiges in Christus?  OF “Is ons besig om bloot name van nuwe belydende lidmate op ons lidmaatregister te skryf, sonder dat mense regtig ‘n saak het met Christus en sy kerk?  Wie is ons besig om te mislei?  Is ons regtig besig om Christus te eer in ons optrede en sý kerk op aarde te bou?”

 

Die antwoord lê in God se Woord!  Handelinge 2:47  “...die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.”  (Lees Hand 2:43-47).  Die kerk van Christus (waarvan ons gemeente deel is) bestaan uit gelowiges in Christus!   Dit beteken tog logies dat dít ons vertrekpunt en uiteindelike mikpunt moet wees, wanneer ons praat oor toevoeging van lidmate tot die gemeente: Het daardie persoon God werklik lief en leef hy/sy met die wonderlike belydenis in hulle hart dat Jesus Christus vir hom/haar verlossing gebring het deur sy kruisdood en opstanding?

 

In die lig van bogenoemde het ons besluit om die manier waarop mense belydenis van geloof aflê, soos volg te wysig:

​

  • Ná afloop van die finale- of volwasse kategesejaar, sal daar aan persone geleentheid gebied word om op hulle eie tyd belydenis van geloof af te lê.  Dit maak nie sin dat die kerkraad besluit op watter datum ál die katkisante se geloofsverhouding met God gereed is en wanneer hulle dit voor die gemeente moet bely nie.

  • Elke katkisant ontvang ‘n vraelys (soortgelyk aan die vrae wat “tradisioneel” tydens belydenisaflegging gevra word).  Die verskil is dat elkeen sy/haar persoonlike antwoorde op die vrae neerskryf en dit dan met die leraar van sy/haar keuse bespreek.  Die antwoorde is die basis van ‘n persoonlike belydenis, wat deur elke katkisant afgelê word voor die gemeente.  Ons leraars gebruik die geleentheid om met jongmense te gesels oor die inhoud van hulle belydenis en om hulle te help met die afronding daarvan.

  • Ná afloop van die gesprek word ‘n datum bepaal waarop die betrokke persoon belydenis van geloof gaan aflê (daar is m.a.w. geen vooraf bepaalde datums vir belydenisaflegging nie!).

  • Belydenisaflegging kan op drie maniere gebeur:  (1)  Die persoon staan voor die gemeente en lees sy/haar belydenis self voor.  (2)  Die persoon se belydenis word by wyse van ‘n vooraf opgeneemde video opname aan die gemeente vertoon, terwyl die betrokke persoon voor in die kerk staan.  (3)  Die persoon staan voor in die kerk terwyl een van die leraars die betrokke persoon se belydenis voorlees.

bottom of page